1Timotheus 3:2 ‘n Opsiener dan moet onberispelik wees ...
Die woord wat hier gebruik word impliseer nie “volmaaktheid” by die ouderling nie, want geen mens kan volmaaktheid in hierdie lewe bereik nie. Hierdie woord het die betekenis van: “bo verdenking wees”. Niemand moet oor hom frons of twyfel of ‘n vinger (van beskuldiging) na hom kan wys nie. Selfs die skyn van die sonde mag nie in sy lewe teenwoordig wees nie.
Bybelstudie: Lees Filippense 3: 1 – 16 (Sorg dat jy ook die Nuwe Vertaling lees.)
1 Verder, my broeders, verbly julle in die Here. Dit is vir my nie lastig om dieselfde dinge aan julle te skrywe nie, en dit gee julle sekerheid. 2 Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding. 3 Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie; 4 alhoewel ek rede het om ook te vertrou op die vlees. As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer. 5 Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ‘n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ‘n Fariseër; 6 wat ywer betref, ‘n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik. 7 Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. 8 Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry 9 en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; 10 sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, 11 of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. 12 Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. 13 Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. 14 Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. 15 Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar. 16 Maar wat ons reeds bereik het—laat ons volgens dieselfde reël wandel, laat ons eensgesind wees.
Agtergrond: As daar nou iemand was wat op die uiterlike en sigbare kon roem, dan was dit die apostel Paulus. Watter dinge was alles tot sy voordeel as ’n gelowige? (vgl vers 4 tot 6. Hoe sou ons dit vandag kon verreken?). Wat bedoel hy aan die einde van vers 6 met die begrip “onberispelik”? Anders as wat ons sou verwag beskou hy hierdie dinge as iets wat weggewerp moet word – menslike uitwerpsel (drek) - ’n baie sterk woord! Hoekom moet hy nie daarop vertrou nie? Wanneer word hierdie positiewe dinge eerder struikelblokke in ’n mens se geloofslewe? Wat sou hy eerder wens? (vergelyk vers 10 en 11 – Nuwe vertaling). Wat besef hy baie duidelik in vers 12 en 13 en watter ywer en verantwoordelikheid het dit tot gevolg in sy lewe? Vergelyk vers 15 in Ou en Nuwe vertaling. Gee jou eie definisie van wat “geestelike volwassenheid” sou wees.
Oordenking:
My oupa en my pa was vir baie jare ouderling en my ma was op die susterbestuur. Ek het van kleintyd in ‘n Christelike huis grootgeword en het onder ‘n baie bekende professor gekatkiseer, by die PU vir CHO gestudeer en behoort al vir meer as 30 jaar aan die Gereformeerde Kerk. Op die oomblik is ek al 5 jaar agtereenvolgens ’n ouderling. Sê dit enigsins iets van iemand se geloofslewe? As dit die enigste beskrywing is van jou geloofslewe, het jy ’n baie ernstige probleem. Dit is wel positiewe dinge, maar bloot uiterlik. Dit gee geen beskrywing van jou geestelike hartsgesindheid nie. Wanneer die Here oor jou ’n getuigskrif gaan skryf gaan hierdie uiterlike dinge niks tel nie. Dit is voordele, wat ewe maklik struikelblokke kan word. As dit al is waarop jy steun, gaan jy juis daaroor struikel. Hoe staan dit in jou hart? Is jou hart – onberispelik?
Wat beteken dit? Verwag die Here van ons volmaaktheid in hierdie lewe? Nee, dit is nie moontlik nie. Wat wel sigbaar moet word is ons geestelike vordering op die pad van heiligmaking. Paulus gebruik die beeld van ’n atleet wat vorentoe beur – al nader en nader aan die wenpaal. Daar is ’n duidelike doelpunt in sy lewe en gevolglik ook ‘n duidelike strewe / motivering om hierdie doelpunt te bereik. God verwag nie geestelike volmaaktheid in hierdie lewe nie, wel geestelike volwassenheid. Wat is dit? Iemand is geestelik volwasse wanneer hy sy geestelike onvolmaaktheid besef en besig is om iets positiefs daaraan te doen. (Diegene wat net kan roem op positiewe / uiterlike voordele uit hulle verlede sal geestelike onvolwasse bly.)
Onberispelik beteken nie geestelik volmaak nie, maar geestelik volwasse.
Gebed: Here, baie dankie dat U my in U genade gegryp het. Ek is baie beslis nog nie waar ek moet wees nie. Gee asb deur U Gees aan my die fokus op die doelpunt / eindpunt (wenpaal) van my lewe, asook die strewe / ywer om geestelik daarheen te beur. Ek wil as ouderling regtig “onberispelik” in u diens wees. In Jesus se Naam. Amen.